|
Audio Sermons
Audio music
Text Sermons
Visitor Info
Outreaches
Choir
Confession
Articles
Links
Education
Ministers
Map
Photos
History
Cassette
Europe
Self-help
Internet
Faqs
HOME
| |
DIE KWASIZABANTU BEVESTIGING 1991
1. INLEIDING:
Hierdie Bevestiging het voortgespruit uit die derde Predikante-Konferensie wat te
Kwasizabantu Sending gehou is, bygewoon deur afgevaardigdes en lede van 71 denominasies en
Christelike organisasies in Suid-Afrika. Verenig deur 'n gemeenskaplike geloof in Jesus
Christus en aan basiese Bybelse beginsels, het ons besin en ooreengekom oor verskeie
onderwerpe van belang vir die Kerk in Suid-Afrika en na ons mening ook vir die Liggaam van
Christus wêreldwyd.
Ons het individueel en gesamentlik opnuut 'n toewyding gemaak om die Here te dien volgens
Josua 24: "Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien... maar ek en my huis, ons
sal die HERE dien".
Verder is hierdie Bevestiging 'n reaksie op die Staatspresident se uitnodiging aan die
Kerk om sy siening en standpunt met hom te deel. Daarom bied ons nou hierdie
Bybel-gefundeerde antwoord op die volgende belangrike sake aan - beide aan die Kerk hier
in Suid-Afrika en internasionaal, sowel as aan die Staatspresident en ander
belangstellendes:
2. "KIES DAN VIR JULLE VANDAG..."
Ons bekragtig die feit dat die Kerk voor 'n keuse te staan gekom het om te kies tussen
suiwer Bybelse standaarde wat God behaag of om te verval in kompromie, sinkretisme en 'n
louheid wat sal lei tot God se mishae, 'n verwydering van Sy seëninge, en oordeel.
Ons moet kies tussen 'n gepolitiseerde Evangelie en dié Evangelie "...wat eenmaal
aan die heiliges oorgelewer is" (Jud 3). Ons moet kies tussen 'n humanistiese
evangelie en die Evangelie wat die mens onttroon en ons Here Jesus Christus op die troon
plaas. Ons moet kies tussen 'n `New Age'-evangelie wat die mens tot die vlak van God
verhoog en die Evangelie wat 'n persoonlike soewereine God verkondig aan wie die mens
verantwoording moet doen.
3. DIE GRONDSLAG VAN ONS CHRISTELIKE EENHEID
Ons glo dat die grondslag vir Christelike eenheid 'n onvoorwaardelike aanvaarding van die
basiese waarhede van die Christelike geloof is. Dit sluit die volgende in:
Die drie-enige God, die Skepper, bestaan (Matt 28:18-19, Joh 1:1-3) en Hy het tot die mens
gespreek (Heb 1:1-3). Sy boodskap is vervat in Sy onfeilbare Woord, die Bybel, wat in die
oorspronklike tale foutloos is (2 Tim 3:16, 1 Tess 2:13).
Verlossing is die sentrale boodskap van die Bybel. Die mens se opstand teen God het gelei
tot die sondeval en die verdorwenheid van elke mens (Rom 5:12). Weens die mens se skuld
aan die oortreding van Sy heilige wette (Rom 2:23) en sy onvermoë om homself te red, het
God Sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur, gebore uit 'n maagd, as die volmaakte offer
vir sonde (Rom 4:25, 1 Tim 2:5-6), om ons te verlos sodat ons die ewigheid in Sy
teenwoordigheid mag deurbring (Joh 14:2-3, 1 Pet 1:4).
Redding is alleenlik deur die genade van God en deur die soendood van Christus moontlik.
God het sy Heilige Gees gestuur om aan Sy kinders die krag te gee om Sy getuies te wees in
hulle eie spesifieke omstandighede en tot "aan die uiterste van die aarde" (Hand
1:8).
Die ware Kerk bestaan uit al die ware gelowiges wat gewas deur die Bloed van Christus en
wederbaar deur die Heilige Gees, deel van die familie van God geword het (Ef 5:25-27).
Ware Christelike eenheid is nie gesetel in lidmaatskap van 'n sekere denominasie of in 'n
getuienis van Christenskap nie. "Nie elkeen wat vir My sê Here, Here! sal ingaan in
die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele
is" (Matt 7:21). "Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan
wees..." (Joh 17:23).
4. RESPEK VIR LEWE
Ons glo dat lewe 'n gawe van God is en dat dit met die hoogste agting deur beide die Kerk
en die Staat hanteer moet word. Aangesien die mens "na die beeld van God"
geskape en Sy kosbaarste skeppingswerk is, voel ons ons genoodsaak om die volgende te
verwerp:
a) Ons verwerp rassediskriminasie en klassehaat. "Julle mag geen onreg doen in die
gereg nie. Jy mag vir die geringe nie partydig wees nie, die aansienlike nie voortrek nie.
Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel" (Lev 19:15). "Ek sien waarlik
dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees
en geregtigheid doen, Hom welgevallig is" (Hand 10:34-35).
Ons glo op grond van God se Woord dat rassisme, bitterheid en haat iets van die verlede
word wanneer die Lewende Christus menselewens oorneem (2 Kor 5:17). Dit word bevestig deur
die harmonie waarin verskillende nasies hier op Kwasizabantu reeds meer as 20 jaar lank
(gedurende die hoogtepunt van rassewrywing) saamleef, sowel as deur die persoonlike
ervaring van baie van ons hier.
Ons betreur die feit dat baie van dié wat die Kerk verteenwoordig het, beide swart en
wit, nie daarin geslaag het om die basiese beginsel van "jy moet jou naaste
liefhê" uit te lewe nie. In plaas daarvan het hulle nasionalistiese aspirasies
v¢¢r Christus in hulle lewens en kerke gestel.
Ons betreur die feit dat daar onder die invloed van die nasionaal sosialistiese ideologie,
wat tot die oorheersing van een ras bo 'n ander gelei het, voordele aan sekere mense in
ons land toegeken is terwyl ander van sekere regte ontneem is. Dit sluit die reg op
permanente besit van grond en vaste eiendom, asook die reg op vryheid van beweging in. Ons
erken hierdie regte en is vasbeslote om te verseker dat dit vir almal in die nuwe
Suid-Afrika bewaar sal bly.
Die gevaar bestaan dat die sosialistiese ideologie wat op rassevoorkeur gebaseer is,
vervang kan word deur die sosialistiese ideologie gebaseer op klassevoorkeur. Daarom
beklemtoon ons dat daar in die nuwe Suid-Afrika geen diskriminasie gebaseer op ras of
sosiale klas mag wees nie (Lev 19:33-34).
Ons is dankbaar vir die herroeping van Apartheidswetgewing. Terselfdertyd besef ons dat
dit op sigself nie genoeg is om die hou-dings en leefwyses van Suid-Afrikaners te verander
nie. Verandering van verkeerde wette moet gepaard gaan met verandering van verkeerde harte
(Mark 7:20-23, Eseg 11:19).
b) Ons verwerp geweld en intimidasie (Ps 7:16). Ons is ontsteld oor die politieke geweld
wat ons land vernietig. Ons verafsku die misbruik van kinders deur politieke partye as
goedkoop kanonvoer. Hulle lewens is kosbaar voor die Here en mag nie deur ideologiese
oorlogvoering verspil word nie. "...hierdie kindjie, hy is die grootste in die
koninkryk van die hemele. ...maar elkeen wat een van hierdie kleintjies... laat
struikel..." (Matt 18:4+6).
Mense mag onder geen omstandighede gedwing word om teen hulle gewetens op te tree net om
'n politieke party se doelwitte te verwesenlik nie. Enige dwang wat mense opgelê word tot
opmarse, die skreeu van slagspreuke, stakings, boikotte, vandalisme ens., is nie in
ooreenstemming met die Woord van God en die algemene moraliteit nie (Spr 1:10-15). Ons
doen 'n beroep op die Staatspresident om deur wetgewing die reg van individue om
gehoorsaam te wees aan hulle eie gewetens (soos gerig deur Gods Woord) te beskerm, en om
alles in sy vermoë te doen om te verseker dat dit in 'n nuwe grondwet opgeneem sal word
(Pred 8:11, Eks 21:12-16).
c) Ons verwerp aborsie (Deut 30:19-20). Daar is geen Bybelse of morele grondslag wat
aborsie regverdig nie. Die Bybel leer ons dat 'n mens se lewe reeds by bevrugting begin en
nie eers by geboorte nie (Matt 1:23, Eks 21:21-24, Ps 139:13-16, Jer 1:5, Luk 1:41-44).
Ware Christene is altyd pro-lewe en beskou ongebore lewens (van watter ouderdom ook al) as
kosbaar voor God, lewens wat beskerm en verdedig moet word. Aborsie is dus net 'n verfynde
vorm van "kinderofferande" (Deut 18:10, Lev 18:21).
Ons dring daarom by die Regering aan om alle druk dat die aborsiewet verruim moet word,
teë te staan. Hierdie druk kom van mense wat die duidelike Bybelse opdrag: "Jy mag
nie moord pleeg nie", verwerp. Ons dring verder daarop aan dat bestaande wetgewing
hersien en in ooreenstemming met die pro-lewe standaard van die Woord van God gebring moet
word.
d) Ons verwerp evolusionisme (Gen 1:1, Joh 1:l-4). Omdat ons die Bybelse weergawe van die
oorsprong van die mens glo, verwerp ons geheel en al die onbewese teorie van evolusie.
Terwyl beweer word dat die mens die hoogtepunt in die proses van evolusie is, ontken
hierdie teorie in werklikheid die waarde van die mens en verlaag hom tot die vlak van
slegs 'n ontwikkelde dier. Omdat hierdie teorie nie op die Bybel gebaseer is nie,
vernietig dit die basiese gelykheid van mense. Die evolusionistiese geloof aan die
oorlewing van die sterkste en die noodsaaklikheid om die swakkes uit te skakel, regverdig
uiteindelik die eliminering van dié wat as swak of minderwaardig beskou word. Genadedood
en aborsie vloei logies hieruit voort.
e) Ons verwerp humanisme (Jer 17:9, Ps 1:1-6, Matt 16:23). Baie ideologieë en godsdienste
is gebaseer op die humanistiese beskouing dat die mens nie deur God geskape is nie en ook
nie 'n onsterflike siel besit nie. Die logiese uitvloeisel van humanisme is 'n gebrek aan
respek vir die lewe, wat uitloop op evolusie, aborsie, geweld, rassediskriminasie en
klassehaat. Kommunisme, wetenskaplike sosialisme of demokratiese sosialisme is die
uitvloeisel van humanisme en moet deur elke Christen wat aan die Bybel glo, verwerp word.
Ons verklaar aan ons Regering en die mense van Suid-Afrika dat CHRISTUS, en nie die
sondige eie ek nie, die middelpunt van ons lewens moet wees.
5. GODSDIENSVRYHEID
Ons verklaar dat godsdiensvryheid 'n integrale deel van die nuwe grondwet moet vorm.
Alhoewel baie grondwette godsdiensvryheid waarborg, word die Christene dikwels strawwe
beperkings opgelê. Ons dring dus by die Staatspresident daarop aan om seker te maak dat
die nuwe grondwet deur die volgende ingeboude beperkinge enige inmenging in kerksake sal
voorkom:
a) Die erkenning van die reg van ouers om hulle kinders in die weë van die Here op te
voed (Deut 6:6-7, Ps 78:5-7, Ef 6:4). Die on-skendbaarheid van die gesin moet in hierdie
tyd waar die Bybelse gesinsmodel opsy geskuif word, gehandhaaf word. Een manier waarop dit
gedoen kan word, is deur te verseker dat belastingwette dit nie vir 'n ongetroude paartjie
finansieel meer voordelig maak om saam te leef as om te trou nie. Hierdie is een van die
dinge wat die familielewe ondermyn. Dit is alleen wanneer die gesin vry is om volgens God
se standaarde te lewe, dat daar 'n gesonde Christelike omgewing is waarin ons kinders kan
grootword.
b) Die reg om ons kinders na skole van ons keuse te stuur (Kol 2:8). Omdat die opvoeding
van ons kinders hoofsaaklik die plig van die gesin en die Kerk is en nie die Staat s'n
nie, behoort ouers baie meer betrokke te raak in die ouer/onderwyser-verenigings, selfs in
so 'n mate dat hulle hul invloed op die leerplanne kan laat geld. Regeringskole behoort
oop te wees vir die verkondiging van die Evangelie en leerplanne behoort op morele en
gesinsnorme geskoei te wees. Indien die nuwe bedeling 'n onderwysstelsel instel wat
hierdie saak negeer, behoort Christen-ouers aangemoedig te word om ander moontlikhede te
ondersoek. Dit sal 'n terugkeer na privaat Christen-skole insluit.
c) Die reg van die Kerk om leiers te kies sonder inmenging van die Staat (Hand 6:3-6).
d) Die vryheid om ons geloof te verkondig deur enige middele wat die Kerk tot sy
beskikking het (Matt 28:19-20). Niemand mag egter gedwing word om teen hulle sin enige
geloof, godsdiens of ideologie te aanvaar nie. Net so behoort niemand verhinder te word as
hy hom tot Christus wil bekeer nie. Aan die ander kant mag geen godsdienstige groep (bv.
Sataniste) wat betrokke is by onwettige aktiwiteite soos bloedskande, moord, sadisme,
perversie, terrorisme en ander soortgelyke aktiwiteite, die reg hê om hul duiwelse,
goddelose bedrywighede te beoefen nie.
Ons verwerp die instelling van 'n Departement van Godsdiens-aangeleenthede as
onaanvaarbare inmenging deur die Staat in die godsdiens en 'n stap tot Staatsbeheer van
die Kerk.
6. REGERING
Ons bely dat die Bybel vier vlakke van regering, wat elkeen aan God verantwoording moet
doen en Sy Woord moet gehoorsaam, duidelik omskryf:
a) Persoonlike regering (Gal 5:22-23):
Elke individu is voor God verantwoordelik vir sy eie lewe en sal dienooreenkomstig
geoordeel word in hierdie lewe en die lewe hierna (Open 20:12, Gal 6:7-8).
b) Gesinsregering (Ef 5:22-6:4):
God het die gesin bestem om te bestaan uit een man en een vrou in 'n permanente eenheid,
tesame met die kinders wat vir hulle gebore word. Die sorg van kinders en bejaardes is die
gesin se verantwoordelikheid (1 Tim 5:8).
c) Kerkregering (Heb 13:17):
Die hooftaak van die Kerk is om God te ken en om Hom bekend te maak. Dit sluit die
verkondiging van die volle raadsplan van God in, sowel as die tugtiging van lidmate vir
morele en leerstellige misstappe (1 Tim 5:20, Titus 2:l-15). Daarby moet die Kerk vir die
wêreld wat in die duisternis ronddwaal, 'n lig wees. Ook moet dit sout wees vir 'n
wêreld wat vergaan in morele verrotting (Matt 5:13-16, l Kor 13, Jak 2:14-17).
d) Burgerlike regering (Rom 13:1-5, 1 Pet 2:13-14):
God het die instelling van 'n beperkte burgerlike regering met sy plaaslike, streeks- en
nasionale regsverantwoordelikhede daargestel (Eks 18:18-22). Die vernaamste
verantwoordelikheid van die regering is om sy wetsgehoorsame burgers teen wetsverbrekers
en aggressors te beskerm. Die onderhouding van 'n weermag, 'n polisiemag en geregshowe is
dus 'n verantwoordelikheid van die Staat deur die Bybel hom opgelê.
7. PRIVATE BESIT VAN EIENDOM
Ons verklaar dat die Bybel hom baie duidelik teen die onderdrukking van armes deur die
rykes uitspreek. Dit is net so duidelik ten opsigte van die reg om grond en eiendom te
besit. "Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer
nie,... ook nie 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie"
(Eks 20:17). "As dit (die grond) nie verkoop was nie, het dit nie joune gebly
nie?" (Hand 5:4, Matt 20:15).
Ons verwerp dus op grond van die gebooie: "Jy mag nie steel nie" en "Jy mag
nie begeer nie", enige vorm van `nasionalisering' en ge-dwonge herverdeling van
rykdom en grond. Dit is opvallend dat waar ook al die Bybelse beginsel oortree is, soos in
sosialistiese lande, dit uitgeloop het op hongersnood, agteruitgang en die dood van
miljoene mense.
8. TERUGKEER TOT BYBELSE MORALITEIT
Ons glo dat 'n terugkeer tot Bybelse moraliteit noodsaaklik is. Ons is baie verontrus oor
die vinnige afname van sedelike standaarde in ons land. Ons doen 'n beroep op die Regering
om die wettiging van "Escort Agencies" en soortgelyke instansies wat
onsedelikheid aanmoedig, te herroep. Ons vrees dat ongekontroleerde
"gesinsbeplanning" dikwels ongetroudes aanmoedig om nog meer losbandig onder die
skyn van "veilige seks" te lewe. Ons is ook besorg oor die toename van
pornografie in al sy vorms. Die instelling van "seksonderrig" (i.p.v. Bybelse
waardes) in skole besoedel ons kinders se gedagtes en ondermyn ouers se gesag om hulle
kinders Christelike morele standaarde te leer. Immoraliteit, egskeiding, die okkulte,
homoseksualiteit/lesbianisme en geweld word bevorder deur ons nasionale televisie en
video-winkels.
Al hierdie faktore dra by tot die algemene ondermyning van die sedes in ons samelewing.
Indien dit nie gestuit word nie, sal dit in die toekoms rampspoedige gevolge hê. Dit sal
meer buite-egtelike babas en Vigs tot gevolg hê. Ons is bewus van die ervaring van ander
lande waar seksonderring in die skole ingestel is: onsedelikheid, aborsies, verkragtings
en geslagsiektes het drasties toegeneem. As die huidige verval in sedes voortgaan, sal
Vigs waarskynlik tot miljoene sterftes en 'n ekonomiese ramp in ons land lei.
Ons bepleit dat teruggekeer word na die eerbiediging van die Sondag, die verstewiging van
gesinsbande, die herstel van morele standaarde en die verhoging van die standaarde van die
Raad vir die Beheer van Publikasies.
9. SLOTSOM
Ons doen 'n beroep op Christelike leiers en alle gelowiges in ons land om hierdie
Kwasizabantu Bevestiging biddend te oordink en om hierdie boodskap na al ons kerke en die
Suid-Afrikaanse samelewing uit te dra. Slegs deur heelhartig en konsekwent God se weg, die
Bybelse weg, te kies, sal ons gevrywaar word van die groot mislei-ding wat dreig om die
Evangelie van ons Here Jesus Christus te verdraai.
"KIES DAN VIR JULLE VANDAG WIE JULLE WIL DIEN"
"Toe sê Josua vir die volk: ...Verwyder dan die vreemde gode tussen julle uit en wy
julle heeltemal aan die Here die God van Israel."
Ons reageer op hierdie Skriftuurlike uitdaging deur te bevestig wat die mense vir Josua
geantwoord het:
"Ons sal die Here ons God dien, en sal na Hom luister"
(Josua 24:24).
Versprei deur:
Kwasizabantu Sending
Privaatsak 252
KwaSizabantu
3285
Tel: (032) 481-5500
Faks: (032) 481-5510
| |





|